Powered by:IT City
De Swardt, bly te kenne is ‘n historiese huldeblyk aan die de Swardt-familie. Dit is ‘n nostalgiese terugkyk. Dit is ‘n boek van mense wat diep spore gelaat het en ja, natuurlik ook ‘n bietjie wil spog. Volgens die samesteller en navorser, Johan de Swardt van Sasolburg wat op 75-jarige ouderdom sy brood op die water gewerp het, het die projek hom op nuut laat besef dat God elkeen van die de Swardts hier aan die suidpunt van Afrika met ‘n missie geplant het en mildelik geseën het.
Die primêre waarde van dié geneologiese navorsingsprojek, wat oor meer as 20 jaar gestrek het, is die te boekstelling van ‘n waardevolle stamboom van die afstammelinge van Guillaum de Swardt (1780) as eerste stamvader van die De Swardts in Suid-Afrika. Die vrug van Johan de Swardt se navorsing en passie was ook die registrasie van die eerste De Swardt-familiewapen by die Buro vir Heraldiek nadat hy die familiegeskiedenis van die stamvader tot in Nederland nagevors het. In die proses het hy ‘n wye familienetwerk in Suid-Afrika en Nederland gevestig. Sy penvrug het ook in meer besonderhede op sy eie lewensverhaal gefokus, wat tesame met sy genealogiese navorsing, die historiografie van Afrkaanse familie-geskiedenisse verstewig.
De Swardt, bly te kenne beskryf talle karakteristieke eienskappe in die bloed van elke de Swardt, en bloed kruip immers waar dit nie kan loop nie! Die raaisel wat eeue gelede begin het, word hier ontrafel om die De Swardt-spogperde (en swart skape, wat daar in elke familie is) te ontbloot.
In De Swardt, bly te kenne is dit duidelik dat die verlede en die fondamente wat gelê is ‘n blywende herinnering sal laat – ‘n erfstuk van ontskatbare waarde.
Tags